Ons langtermyn
Waardestelling
Hoe wil ons graag ons Vakansiedorp agterlaat oor 30 of 50 jaar?
- Algemene Christelike beginsels en waardesisteme;
- Afrikaanse karakter waar ons in Afrikaans met lede kommunikeer;
- Vakansievermaak vir die HELE gesin;
- Hegte verbintenis met ATKV;
- Beskerming en sekuriteit aan veral ons ouer lede en kleiner kinders;
- Voortbestaan as ‘onafhanklike’ gebied met beheer oor eie sake;
- Estetiese karakter;
- Goeie Buurmanskap
Die waardes
Deur hierin te slaag behoort ons voortdurend op die volgende AKSIES te fokus om hierdie WAARDES te vergestalt en te beskerm.
WAARDE
1
Christelike beginsels en waardesisteme
- Ons hele gesin wil die Christelike aard van die vakansieprogram, wat jaarliks onder leiding van ATKV hier op Hartenbos aangebied word, heelhartig ondersteun.
- Die sentrale rol wat die amphi-teater nog altyd in die gees en ethos van Hartenbos gespeel het in terme van christelike dienste/vermaak wil ons erken en so ver moontlik as gesin dit ondersteun.
- Ons wil noulettend waak dat die tipe vakansievermaak wat op Hartenbos beoefen en aangebied word, so ver moontlik ons christelike waardes sal ondersteun en uitbou.
- Ons wil waak en protesteer teen enige vorm van ‘vermaak’ wat die christelike karakter van Hartenbos aantas. Veral aktiwiteite op Sondae en Christelike vakansiedae moet hieraan voldoen.
WAARDE
2
Afrikaanse karakter
- Gesien die algehele stryd om die vernietiging van Afrikaans uit alle oorde, wil ons veg dat ons Afrikaans as ons gebruikstaal hier sal besig en ALLE kommunikasie met ons lede steeds in Afrikaans sal geskied.
- Ons wil ATKV aanmoedig om aktiwiteite/dienste in die Amphi-teater in Afrikaans aan te bied.
- Ons wil ATKV aanmoedig om so ver as moontlik kunstenaars wat in Afrikaans hul kuns/lied/ woord beoefen blootstelling en optree-geleenthede te gee.
WAARDE
3
Vakansievermaak
- Ons wil sien dat vakansievermaak opbouend en tot stigting vir die hele gesin sal wees.
- Ons wil erkenning gee aan die eiesoortige behoeftes van kleuters, laerskoolkinders, jong addolosente, werkende en studerende jeug, getroudes en die ouer garde ten opsigte van vermaak en veral tye en plekke daarby aanpas. Die doel hier sal wees om ALLE vermaak vir AL die groepe op Hartenbos beskikbaar te hê ten einde mense in die vakansieseisoen van die paaie af te hou.
WAARDE
4
Verbintenis met ATKV
- Ons wil erkenning gee aan ATKV vir die ontstaansgeskiedenis van Hartenbos as vakansieoord en steeds daarna streef, in noue samewerking met ATKV, om hul beginsels en doelstellings te ondersteun en te bevorder.
- Ons wil lede aanmoedig om gesinslede van ATKV te wees of te word.
WAARDE
5
Beskerming en sekuriteit
- Die beskerming en beveiliging van ons ouer lede is nie onderhandelbaar nie. Daarom sal sekuriteitsdienste in ons oord steeds die hoogste prioriteit geniet.
- Ons wil beskerming aan veral kleiner kinders se soms irrasionele padgedrag bied deur noulettend die neergelegde spoedbeperkings wat binne die oord geld, te kontroleer en af te dwing d.m.v. oorrybare spoedwalle waar van toepassing.
WAARDE
6
Voortbestaan as 'selfstandige' gebied
- Ons wil noulettend waak teen die ‘onafhanklikheid’ van ons gebied en enigiets wat afbreek daaraan sou doen beveg.
- Ons wil as getroue en lojale belastingbetalers die Mosselbaai Munisipaliteit ondersteun, maar ons behou ons die reg voor om besluite en aksies deur enige plaaslike owerheid wat tot nadeel van die HVHV is, teen te staan.
- Ons wil Terrein 194, Karoodorp, Strydomsoord, Plettpark, Rivieroewer en Nic Meyerstraat gesamentlik as private woongebied laat verklaar, dit te bestuur en as sodanig te beheer. Die hoofdoel hiermee is slegs dat die HELE oord as eenheid beskerm sal word en die nodigheid van duur individuele misdaadvoorkomingsmaatreëls in groot mate oorbodig sal word/wees.
- Ten einde gestalte te kan gee hieraan, wil ons so ver moontlik in volle samewerking met ATKV, genoemde gebiede van gekontrolleerde toegangsroetes voorsien vir inwoners, en hul gaste gekoppel aan ‘n vaste adres binne die Oord. Toegang sal egter oop wees vir noodvoertuie (ambulans, brandweer, ens.) en diensvoertuie (vullisverwydering, ens.).
WAARDE
7
Voortbestaan as 'selfstandige' gebied
- Ons wil noulettend waak dat verbouings/verbeterings aan huise sal voldoen aan bestaande bouregulasies wat in die gebied geld in terme van 7,5m dakhoogte, 66% oppervlakte geboubedekking, grenslyne, ens.
- Geen oordrag van eiendom sal plaasvind alvorens die Bestuur sertifiseer dat, soos in die Transportaktes beskryf is, alle bedrae teenoor die HVHV ten volle vereffen is.
- Alle woonpersele is enkelperseel eenhede. As konsollidasie goedgekeur word, sal dit steeds as afsonderlike persele deur die HVHV aangeslaan word t.o.v. jaarlikse heffings.
WAARDE
8
Goeie buurmanskap
- Ons wil ‘n hoë waarde plaas op die vreedsame samesyn tussen bure en sover moontlik in goeie buurmanskap met mekaar probeer leef.
- Ons wil die bou van ‘mure/afskortings’ tussen erwe voorkom.
- Ons wil lede aanmoedig om die Konstitusie en Gedragsreëls van die HVHV getrou na te kom.